DJ WORS DOTCOM

'n Leeftyd Later

2026  ·  Elektroniese Afrikaanse Dansmusiek

Blaai af
DJ Wors Dotcom — 'n Leeftyd Later Albumomslag
'n Leeftyd Later
DJ Wors Dotcom  ·  2026  ·  11 Snitte

Die Snitlys

  1. 01 Vry en Vreesloos
  2. 02 Suikerbossie
  3. 03 Vrydag
  4. 04 Beste begin van my dag
  5. 05 Vakansietyd
  6. 06 Die vuur wat brand
  7. 07 Potjiekos
  8. 08 Sit af daardie ding
  9. 09 Kyk terug in tyd
  10. 10 DJ Wors
  11. 11 'n Leeftyd later
Die Verhaal Agter Die Musiek

'n Leeftyd Later

Die eerste keer wat ek Gouryella gehoor het, het iets in my wakker geword.

Ek onthou nog presies hoe dit gevoel het. Dit was nie bloot musiek nie. Dit het gevoel soos 'n wêreld waarin mens heeltemal kan verdwyn. Die sintetiseerders, die groot oop klank, die melodieë wat aanhou opstyg en beweeg, die gevoel van ruimte en emosie daarin. Dit was die eerste keer dat ek werklik besef het elektroniese musiek hoef nie koud te wees nie. Dit kan menslik wees. Dit kan herinneringe wakker maak. Dit kan jou laat verlang na plekke waar jy nog nooit was nie.

Daardie aand het een gedagte aanhoudend by my bly spook.

"Wat as Afrikaanse musiek ook só kan klink?"

Nie net soos wat mense gewoonlik verwag nie. Nie net kitare, volksmusiek of bekende patrone nie. Ek het begin wonder hoe dit sou klink as mens die emosie van elektroniese musiek vat en dit met 'n Suid-Afrikaanse gevoel meng. Hoe sou dit klink as die musiek soos stofpaaie voel, soos berglug vroegoggend, soos reën op warm grond of soos lang paaie onder 'n sterrehemel?

Daardie gedagte het nooit weer weggegaan nie.

In die begin het ek sterk beïnvloed geklink deur die kunstenaars waarna ek geluister het en aanvanklik praat 'n mens nog met iemand anders se stem voordat jy jou eie vind. Maar soos die tyd aangegaan het, het ek besef die belangrikste deel lê nie daarin om Europese trance bloot in Afrikaans oor te doen nie. Dit moes iets word wat opreg Suid-Afrikaans voel.

Ek wou hê die musiek moes soos hierdie land asemhaal — nie net deur die woorde nie, maar deur die atmosfeer self. Die ooptes van die land, die stilte van vroegoggend, kampvure in die aand, bergpasse en die reuk van rook in koue lug.

So het die album stadig begin vorm aanneem. Nie as los liedjies nie, maar soos een lang reis waarin elke deel met die volgende een verbind is.

Die Snitte

01

Vry en Vreesloos

Hierdie lied het ontstaan uit die gevoel van beweging. Ek het baie gedink aan vroegoggend-fietsry in Sabie en die bergpaaie in die plantasies.

Daar is iets besonders aan daardie wêreld vroeg in die oggend. Die mis hang laag tussen die bome. Alles voel stil, maar terselfdertyd lewendig. Jy hoor jou asemhaling. Jy hoor wiele oor grond en klippe dans. En dan kom die oomblik wanneer jy begin afdraand ry en alles skielik vinniger word.

Daardie gevoel van vryheid en opwinding het ek probeer vasvang in die lied.

02

Suikerbossie

Aanvanklik was dit net 'n gedagte waarmee ek gespeel het — hoe sou 'n bekende Afrikaanse volksmelodie klink binne 'n moderne elektroniese wêreld?

Maar hoe langer ek daarmee gewerk het, hoe meer het ek besef hoe sterk daardie oorspronklike melodie eintlik is. Dit het nie verlore geraak tussen die sintetiseerders nie. Inteendeel: dit het gevoel asof dit nog altyd daar hoort.

Afrikaanse musiek het baie meer ruimte as wat mense dink. Jy hoef nie tradisie weg te gooi om iets nuuts te maak nie. Jy kan die wat oud is vat en dit op 'n nuwe manier laat leef.

03

Vrydag

Die week tap jou kragte stadig leeg. Werk, verkeer, skerms en eindelose geraas.

En dan kom Vrydagmiddag. Skielik haal mense weer asem. Die son voel anders. Die atmosfeer is ligter. Iemand vra wat vanaand se planne is. Vir 'n ruk vergeet almal van probleme tot Maandag.

Ek wou daardie diep sug van verligting vasvang met die snit — nie bloot die idee van kuier of partytjie hou nie, maar die wete dat die swaarste deel van die week verby is.

04

Beste begin van my dag

Vir my gaan hierdie lied oor stilte. Nie stilte as die afwesigheid van klank nie, maar die soort stilte waarin mens weer by jouself uitkom.

Ek het dit baie ervaar tydens vroegoggendoefening en hardloop. Voor die verkeer begin. Voor oproepe en boodskappe. Voor die wêreld begin raas.

Net jy en jou gedagtes. Ek dink baie mense verloor daardie verbinding met hulleself sonder dat hulle dit besef. Die lied probeer iets van daardie rustigheid terugbring.

05

Vakansietyd

Die beste tyd van die jaar het sy eie klank. Dié snit lewe in die ruimte tussen die laaste werkdag en die eerste dag wanneer jy besef jy hoef nêrens te haas nie.

Dit gaan oor die Suid-Afrikaanse somer — lang dae, oop paaie, die son wat laat sak, en die gevoel dat tyd vir 'n ruk ophou met sy gewone gang.

Speel dit hard op die pad Weskus toe. Of Tuinroete. Of waar ook al jou hart jou lei.

06

Die vuur wat brand

Partykeer leer mens die meeste uit moeiliker tye, wanneer jy moeg raak, wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie.

Hierdie snit gaan oor koers hou wanneer dit makliker sou wees om op te gee. Dit fokus op die klein vlammetjie binne jou wat weier om dood te gaan.

Die lied begin stadig, soos 'n vlam wat sukkel om te brand. Maar soos dit ontvou, breek lig deur. Die sintetiseerders raak groter en die snit raak lewendig soos 'n vuur wat helder brand.

Hou aan! Staan vas! Staan op! Skree hard en skud die mure!

07

Potjiekos

Op die album wou ek ook ook die eenvoudige goed vasvang wat lewe lekker maak, soos die lekker atmosfeer van kamp. Meer spesifiek:

  • Die reuk van houtrook
  • Mense om 'n vuur
  • Iemand wat lag in die donker
  • Musiek wat sag speel
  • Niemand wat haastig is nie

Baie van goeie herhinneringe kom juis uit sulke oomblikke.

08

Sit af daardie ding

So baie van ons tyd word opgeneem deur tegnologie. Alles soek aandag. Mense blaai eindeloos sonder om werklik iets te soek.

Hierdie snit fokus op die konstante geraas wat selfone veroorsaak in ons lewens. Die meganiese servo-klanke simboliseer die onsigbare algoritmes wat ons aandag probeer steel. Dis ’n introspektiewe snit met ’n eenvoudige boodskap: sit soms die ding neer en leef in die regte wêreld.

Ek wou hê die lied moes effens ongemaklik voel: herhalend, meganies, soos iets wat jou vasvang. Die ritme beweeg amper soos 'n masjien wat nooit rus nie.

Die boodskap is eenvoudig: Gaan leef weer. Gaan kyk na die wêreld. Gaan sit langs 'n vuur. Gaan kyk hoe lyk die lug wanneer die son sak, want dit is waar regte herinneringe gemaak word.

09

Kyk terug in tyd

Geïnspireer deur die idee dat sterlig uit die verlede kom. Wanneer jy na die sterre kyk, sien jy lig wat reeds jare gelede sy reis begin het: jy kyk letterlik terug in tyd. Die lied gaan oor nostalgie, perspektief en die vreemde mooi van tyd wat aanhou beweeg.

Teen die tyd wat lig ons bereik, het die wêreld reeds verander. Mense het verander. Lewens het aangegaan. Ek het daardie konsep probeer vasvang met die snit.

10

DJ Wors

Wat begin het as ’n eksperiment om nuwe klanke en produksie-idees te toets, het uiteindelik een van my gunstelinge geword. Dit is ’n eerbetoon aan almal wat die naam 'DJ Wors' deel, asook aan al die ander DJ’s regoor die land. Aan elkeen wat week ná week agter die dekke staan en werk insit – hierdie een gaan uit aan julle.

11

'n Leeftyd later

Die titelsnit gaan oor die illusie van tyd. Hoe lank dit vat om iets betekenisvol te bou. Hoe lank dit vat om jou eie stem te vind. Hoe maklik mense dink die belangrike dele van die lewe lê altyd iewers vorentoe.

Die ironie is dat die lewe reeds besig is om te gebeur terwyl ons wag. In klein oomblikke: 'n stil oggend, 'n lang gesprek, 'n vuur in die aand of 'n lied wat onverwags iets in jou wakker maak.

Ek wou hê hierdie snit moes soos die einde van ’n lang reis voel, en daarom het ek dit doelbewus heel laaste op die album gesit. Ek onthou uit my dae as DJ hoe die stilte geklink het in daardie eerste paar sekondes nadat ’n goeie partytjie verby is en die versterkers afgeskakel word. Dit voel asof jou ore uiteindelik weer kan rus nadat hulle so hard gewerk het. Ek het hierdie snit spesifiek geskep om daardie presiese gevoel vas te vang.

Vrae & Antwoorde

Gereelde Vrae

Mag ons jou musiek by 'n geleentheid speel?
Beslis! Speel dit gerus op enige plek waar mense Afrikaans praat, of waar mense dringend moet leer hoe om Afrikaans te praat.
Wat is die storie agter die naam DJ Wors Dotcom?
Die naam het mettertyd aan my vasgesteek. Byna elke dorp het seker sy eie DJ Wors, maar hierdie een is die een van djwors.com.
Kan jy kom DJ?
Nee — daardie hoofstuk in my (DJ Wors Dotcom) lewe is klaar geskryf. Vandag lê my fokus by ander dinge.
Hoekom het jy die album gemaak?
Dit was bo-aan my "bucket list". Die grootste vryheid is om musiek te maak waarvan jy hou sonder om jouself te bekommer oor of dit "gewild" gaan wees.
Is dit jou stem op die snitte?
Nee. My stem het nie die regte energie vir elektroniese dansmusiek nie.
Wat dink jy van kunsmatige intelligensie in musiek?
Nuwe tegnologie maak mense altyd ongemaklik, maar net soos die drukpers gaan kunsmatige intelligensie bloot die manier verander waarop ons skep. Dit is eintlik maar 'n nuwe instrument in die evolusie van musiek.
Gaan daar nog albums kom?
Vir nou is my "bucket list" tevrede. Ek het gemaak wat ek wou hoor: musiek met 'n positiewe boodskap, sonder om verskoning te vra vir die elektroniese klanke. As die mense dit geniet, is dit 'n bonus. As hulle dit haat, is dit ook reg, solank hulle dit hard speel.